Aan die einde van 2019 kyk ek na my dagboek.  Di’s vol geskryf, blaaie krul om, take is afgemerk, ander oorgedra.  My dagboek is gelééf.  Dit lyk soos ek voel….. moeg en afgerem.

Ek trek my nuwe dagboek vir 2020 nader.  Die blaaie lê nog perfek op mekaar.  Ek maak dit versigtig oop en skielik kom lê daar ‘n opgewondenheid in my vir ‘n nuwe  begin.   Ek druk die eerste bladsy plat en begin skryf aan nuwe take…  Op elke bladsy lê die onbekende en wag.  ‘n Reis wat verseker baie gaan inhou.  Ek bid:  “Here, help my om deel van U storie te wees en dat ek altyd U wil sal deel maak van my eie storie.”