Dissipline: Buig of breek ons die boompies?Dissipline. Buig of breek

Soms begin ek met iets net om halfpad te besef ek het dalk bietjie meer afgebyt as wat ek kan kou. Dissipline en strafstelsels in die huis en skole was so iets. Al my vrae rondom hierdie onderwerpe het begin oorborrel toe ek na hoërskole se gedragskodes en reëlboekies begin kyk. Lyste en lyste van oortredings waarvoor kinders debiete kan versamel. Lengte van naels en toelaatbare haarstyle wat tot in die fynste besonderhede bespreek word, maar geen wenke van wat nou eintlik van jou ‘n goeie kind maak nie. Wel, daar word verwys na dinge soos respek en integriteit, maar nie wat dit nou eintlik in die klas of op die sportveld beteken nie. Ons weet presies waarvoor ons ons kinders gaan straf, maar ons is nie so seker wat presies jy moet doen om krediete te verdien nie. Prestasie-beloning is maklik. Kry net bo 80% of haal die eerste span, dan beloon ons jou met ‘n balkie of ‘n sertifikaat. Maar as jy ‘n lojale ondersteuner is of elke Saterdag in die snoepie help, tel dit nie regtig punte nie. En dan die straf-emmertjie wat die hele tyd aangestuur word. Ek hoor ouers sê:“Dit is omdat skole nie meer ordentlike dissipline toepas dat klasse so buite beheer is.” Daarteenoor mor onderwysers: “Dit is omdat ouers nie meer hulle kinders by die huis dissiplineer nie, dat ons met belhamels in ons klasse sit.” En dan die gunsteling, wat my hare bietjie laat rys…”dit is omdat kinders nie meer pakslae kry nie, dat ons samelewing lyk soos dit lyk.” Of: “Die Bybel gee duidelik ‘n opdrag dat ons ons kinders moet slaan tot hulle huil.” Finish en klaar. Oor en uit. Nou is lyfstraf nie meer toelaatbaar in skole nie (en eintlik ook nie by die huis nie). Wat nou?
Ek het baie gepraat (meestal met my geduldige man), gelees, ander se opinies met ‘n aanlyn-vraelys gekry, weer gelees, sosiale media bekyk en besef: hierdie is nie ‘n eenvoudige saak nie. Ek het geskryf, geredeneer weer geskryf en elke keer as ek lees wat ek geskryf het, dan klink ek vir myself so bietjie soos die deursnee opmerking op Netwerk24-artikels: eensydig, veroordelend en eintlik so bietjie onbevoeg om hierdie saak te takel. In my aanlyn-vraelys wat vriende en Facebook-vriende ingevul het, het ouers geantwoord dat hulle gemiddeld so 60% vertroue het in hulle eie oordeel as dit by straf en dissipline in die huis kom. So ons werk maar almal met so ‘n 40% kantlyn vir foute. My doel met hierdie navorsing was nie om met die een regte antwoord vorendag te kom nie. Die wonderkuur om kinders van alle ouderdomme tot gehoorsame landsburgers te dissiplineer nie. Maar wel om ouers en onderwysers net weer bietjie te laat dink. Waarmee is ons besig? Hoekom doen ons wat ons doen as dit nie regtig vir ons of ons kinders werk nie? Of het ons net nog nie hard genoeg gedink oor hierdie saak nie?
Ek vermoed deel van die probleem is dat dissipline-stelsels by die huis en die skool so ver verwyderd is van mekaar. Ouers en onderwysers is nie op dieselfde bladsy nie, en die kinders wat gedissiplineer moet word, val sommer heeltemal van die bladsy af. Dalk moet ons ‘n tree terugstaan en weer kyk wat is ons oogmerke met dissipline en straf? Dalk moet ons begin om raakpunte tussen die huis en skool te soek. En dan ons maniere van dissiplineer en straf bietjie herevalueer.
Om kinders die wêreld in te stuur wat respek het vir hulleself, vir kinders rondom hulle en alle volwassenes met wie hulle in aanraking kom. Dit klink vir my na ‘n goeie samevatting van ‘n gemeenskaplike doelwit. Liefde vir myself en liefde vir my naaste.
So, as my doel is om vir my kind respek/liefde vir homself en sy medemens te leer, wat is die beste manier van dissipline? As my doel is om onmiddellike gehoorsaamheid af te dwing, is ‘n pakslae dalk ‘n oplossing. ‘n Korttermynoplossing. Wat van gehoorsaamheid as ek nie daar is nie: Om die regte ding te doen as niemand kyk nie. Leer ‘n pakslae dit vir my kind? En is my manier van straf effektief genoeg dat my kind uiteindelik in die regte lewe die regte ding gaan doen? Gaan hy verkeersreëls gehoorsaam omdat hy bang is vir straf (want dit is waaraan hy gewoond is), of omdat hy lief is vir homself en sy medemens? Ek dra ‘n sitplekgordel en ek sit vir my kinders ‘n sitplekgordel aan….omdat ek myself en hulle liefhet. Ek ry 60km/h in ‘n woongebied omdat ander se veiligheid vir my belangrik is. Nie omdat ek weet die spietkop sit gewoonlik agter ‘n spesifieke boom nie.
Ek het met die verkeerde vraag begin. Ek wou uitvind of ‘n pakslae die wonderkuur is. Soos baie ouers en onderwysers beweer. In die proses het ek Samuel Martin se 160-bladsy boek deurgelees “Thy rod and thy staff, they comfort me: Christians and the smacking controversy” waar hy die die betekenis van lyfstraf (en die steniging van tieners) tot op die Hebreeuse been verduidelik. En uiteindelik by die slotsom kom dat die Jode hulle kinders met ‘n staf moes lei en dissiplineer en nie met ‘n stok moes slaan nie.
Ek dink die vraag moet eintlik wees: Wat is die beste manier om kinders te dissiplineer wat gaan verseker dat hulle op die langtermyn hulle gedrag verander en sodat verhoudings nie skade ly in die proses nie? En dieselfde reëls moet mos by die huis, in die klas en op die sportveld geld?
In my aanlyn-vraelys het ek gevra wie almal by kinders se dissiplinering betrokke moet wees. 100% het aangedui dat beide ouers (Pa en Ma) moet straf. 62% het gevoel onderwysers moet betrokke wees (dus is daar 38% ouers wat voel onderwysers moet nie betrokke wees by hul kinders se dissiplinering nie) en net 52% het gevoel die skoolhoof moet betrokke wees. Net 38% het gesê sportafrigters mag hul kinders dissiplineer en net 24% het gevoel hul kinders se maats se ouers mag hul kinders dissiplineer. Nou, dit bekommer my. Ek het nogal gewroeg oor hierdie statistiek, want wat het geword van “It takes a village to raise a child”? As ons almal dieselfde oogmerk het met dissipline, sou ek dink dat onderwysers en my kinders se maats se ouers en sportafrigters almal ‘n belangrike rol het om dit vir my kind te leer. Nie om my kind ‘n pakslae te gee as hy oortree nie, maar definitief om hom tereg te wys as hy homself, sy vriende of enige volwassene te na gekom het?
So, as ons dink oor dissipline en die beste manier om dit te doen, dink ek moet ons bietjie hieroor dink: Besef my kind wat die implikasies is van sy gedrag? Besef hy dat hy homself en/of ander mense hierdeur negatief beïnvloed het? Hoe gaan my manier van dissipline hom help om dit in die toekoms (as ek nie by is nie) nie weer te doen nie?
Selfone is ‘n kwessie in ons huis. Ons het immers twee tieners en een vyfjarige wat al gereeld vra wanneer sy ‘n selfoon mag kry. So. Wat wil ek my kinders leer oor selfoongebruik? By die skool word selfone verbied. As ‘n kind met ‘n selfoon gevang word, kry hy debiete. Wat leer hulle hierdeur? Selfone is ‘n onding. Ek moet dit skelm gebruik…
Wat wil ek my kinders leer? Hoe om ‘n selfoon verantwoordelik te gebruik: Waarna kyk my kind en hoe lank kyk hy daarna? Om ‘n selfoon met respek te gebruik (ek stuur nie 22h00 in die aand WhatsApps nie en in ‘n geselskap sit ek my selfoon neer en kyk na mense as hulle met my praat).
Hoe presies gaan debiete en ‘n pakslae hierdie selfoon-reëls vir my kind leer? By ‘n onlangse ouerbyeenkoms by die skool, sit daar ‘n onderwyser net so links van my. Die skoolhoof lewer ‘n toespraak; ander onderwysers praat hulle harte uit op die verhoog. Maar hierdie onderwyser is die hele aand op sy selfoon besig. Is hy besig om agterstallige e-mails in te haal of lees hy net vandag se Facebook posts? Ek weet nie hoe belangrik was dit waarmee hy besig was nie, maar ek is redelik seker dat hierdie einste onderwyser die volgende dag vir kinders debiete sou gee wat dit durf waag om ‘n WhatsApp in sy klas te stuur. Geen wonder ons sit met kinders wat wonder wat nou regtig die regte ding is om te doen nie. Dit wat in die skool se reëlboekie staan of dit wat ek onderwysers en ouers sien doen? As ons ons kinders wil respek leer vir volwassenes, moet ons seker self ophou skree op die skeidsregter of die swak bestuurder voor ons?
Maya Angelou het gesê: “Do the best you can until you know better. Then when you know better, do better.”
As jy, soos ek, ouer as 40 is, het jy ook nie in ‘n karstoeltjie gery, met papierstrooitjies koeldrank gedrink of plastiek herwin as kind nie. Ons weet nou beter, so ons doen nou bietjie anders. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat ons ons kinders moet liefhê en die omgewing moet bewaar. Nie ons of ons ouers het gedink ons was ongehoorsaam toe ons agterop bakkies gery het en met plastiekstrooitjies Coke gedrink het nie. Maar ons weet nou beter, so ons doen nou bietjie anders. Dalk het dit tyd geword dat ons ook bietjie anders moet begin doen as dit by dissipline kom. Want as vorige generasies se manier van dissipline regtig so effektief was, hoekom is daar honderde bewegings soos #enoughisenough, #MeToo en #OrangeTheWorld? Ek wonder net hardop…dalk moet ons die boompies minders breek as hulle oortree het en eerder kyk hoe ons hulle in die regte rigting kan buig sonder om hulle te knak.

Anna-Mari Kruger, Mosselbaai
083 655 1171
(Vriendin van Elize Barnardt, Mosselbaai)