2021.OEFEN JOU BREIN

OEFEN JOU BREIN

Inleiding
Jou brein, net soos jou lyf, raak lui as dit nie gereeld gebruik word nie. Die goeie nuus
is egter dat dit eenvoudiger is as wat jy dink om elke dag aan te pak met ʼn brein wat
wakker en skerp is.

Jou brein is buigbaar
• Vroeër het wetenskaplikes gedink die brein is ʼn statiese orgaan, maar intussen het
breinkenners besef dat die brein gedurig besig is om te verander. (Neuroplastisiteit is die term wat na hierdie verandering verwys. Dit is wanneer wetenskaplikes
kyk hoe die brein verander, op watter maniere en wat die verandering veroorsaak.)
• Neuroplastisiteit kan positief of negatief wees. Breinskade of beroerte kan negatiewe gevolge in die brein veroorsaak. Breinselle sterf ook natuurlik af met ouderdom. Die goeie nuus is egter dat plastisiteit ook aangewend kan word om breinbesering, beroerte of veroudering teen te werk.
• Neuroplastisiteit het geboorte gegee aan ʼn multimiljoen Rand breinoefening-bedryf.
Maatskappye soos Lumosity, Jungle Memory, Nintendo en Cognifit ontwikkel
neurowetenskaplike raaisels en speletjies wat belowe om jou slimmer en skerper te
maak.

Maar, werk dit regtig?
Tot dusver is die wetenskaplike bewyse vir die sukses van sulke breinoefeninge nog
teenstrydig. ʼn Studie in 2008 het geïmpliseer dat jy jou IK met een punt verhoog vir
elke een uur se geheue-oefeninge. ʼn Meer gekontroleerde studie het egter geen bewyse
daarvan gevind nie.
❖ Die neurowetenskaplike, dr Adrian Owen, het 11 000 mense vir 6 weke lank d.m.v.
rekenaargegronde breinoefeninge gemonitor en gevind dat hulle beter geraak het
met die speletjies self, maar nie noodwendig meer intelligent geword het nie!
❖ Michael Merzevich, ʼn neurowetenskaplike aan die Universiteit van Kalifornië, het wel
bevind dat daar gegronde wetenskaplike bewyse is dat die brein, soos goeie wyn, net
beter raak met die ouderdom! Ouer mense is beslis beter met die integrasie (saamvoeg) van inligting én ook probleemoplossing – juis omdat hulle met die jare heelwat
meer inligting in hul breine gestoor het.
❖ Jonger mense weer, dink vinnig, neem vinniger besluite, is meer waagmoedig. Alles
positiewe eienskappe en nodig vir ʼn gesonde en gebalanseerde samelewing!
❖ Die slotsom is dus: Jou brein is nie staties nie, dit verander en kan gedurig
verbeter wanneer jy verskillende dinge doen en aanleer – beslis nie nét deur spesifiek
voorgeskryfde “breinoefeninge” nie!

Die goeie nuus
Jy hoef dus nie noodwendig ʼn “app” (toepassing) te koop of ʼn webwerf te besoek om jou
brein ekstra stimulasie te gee nie. (Alhoewel enige nuwe vaardigheid wat jy aanleer, wel
baie goed vir breinstimulasie is.)

Gewone dinge wat jy kan doen om jou brein skerp te hou
➢ Kry oefening. Aerobiese oefening is van die heel beste oefening wat jy kan doen om
jou brein gesond te hou. Dit lei tot verhoogde bloedtoevoer, meer voedingstowwe en
meer suurstof na die brein.
➢ Borsel tande. Mondhigiëne verlaag die risiko om dementia te ontwikkel.
➢ Eet gesond. ‘n Gesonde liggaam help met ʼn gesonde brein. Kos ryk aan antioksidante
neutraliseer vrye radikale wat neurone in die brein afbreek. (Groentee is blykbaar
bewese om die brein teen Alzheimersiekte te beskerm.)
➢ Raak rustig. Kalmte en genoeg rus/slaap is goed vir breingesondheid. ʼn Goeie
nagrus verdubbel jou kapasiteit vir kreatiewe probleemoplossing. Mediteer.
➢ Wees sosiaal. Sterk sosiale bande en gereelde sosiale aktiwiteite, word selfs met ʼn
langer lewensverwagting geassosieer. Doen ook vrywillige werk vir liefdadigheid –-
dit verhoog dopamienvlakke wat goed is vir jou brein.
➢ Stimuleer jou brein met speletjies. Vul blokraaisels in, speel bordspeletjies,
woordspeletjies en selfs video/rekenaar-speletjies.
➢ Lees! Misdaadromans, romantiese komedies, biografieë, tuinboeke, Bybelstudies,
koerant. Eintlik enigiets. Lees net!
➢ Leer ʼn nuwe vaardigheid. Skryf in vir ʼn kursus, maak ʼn nuwe resep, leer ʼn
musiek-instrument bespeel, sing, leer brei, ens.
➢ Maak tuin. Werk in die grond is goed vir jou brein op vele vlakke — dit maak jou
rustig en die son en wind stimuleer jou brein en sintuie.
➢ Leer ʼn vreemde taal aan. Al is dit net ʼn paar nuwe woorde in ʼn ander taal — dit
help met die vorming van nuwe “bane/verbindings” in jou brein.
➢ Besoek nuwe plekke. Reis. Selfs al kyk jy net reisprogramme, natuurprogramme,
dokumentêre programme, of lees oor interessante plekke. (Mense vaar selfs beter
in taaltoetse na een van hierdie aktiwiteite!)
➢ Ruil hande om. Gebruik jou nie-dominante hand om hare te kam, tande te borsel,
ens. Dit verhoog kreatiwiteitsvlakke. (Ook, wanneer jy bv. ʼn foto op jou lessenaar
onderstebo draai wanneer jy fokus verloor, stuur jou brein “noodseine” uit wat jou
help om weer fyner detail raak te sien.)
➢ Skryf briewe. Dit stimuleer sg. “kleinletter kreatiwiteit” wat bydra tot lewensverryking.
➢ LAG! ʼn Lekker uitbundige lagbui stimuleer jou brein op alle vlakke. Kyk dus gerus
daardie lawwe fliek/sitkom. Sien humor rondom jou raak. Moenie jouself te ernstig
opneem nie. Daardeur doen jy jou brein ʼn reuse guns!!

Inligting uit:
• Rapport “My Tyd” –bylae van 12 Januarie 2014.
• “Slyp jou Brein” deur Dr. Harry Alder
• Internet-artikels — “What you should know about jour BRAIN” deur Judy
Willis, MD
“Preparing your students for the challenges of tommorrow” deur Judy Willis,
MD, (Neurologist/Teacher/Grad School Ed faculty/Author.
——————–oOo——————–
Nog boeke om te lees:
1) Slyp jou brein deur Dr. Harry Alder
2) Die glinster in my grysheid deur Melody de Jager
3) The six language picture aid deur Isabel Uys

Artikel saamgestel deur Lina van den Berg (Virtuele lid aan die Kaap)