DK Bergsig Koerant 2021 finaal

Terugblik op Dameskring Bergsig se Tee op Saterdag 18 September 2021

 2020 se Dameskring-tee is vroeg reeds beplan, en almal was baie opgewonde om die opwindende sprekers in aksie te sien.   Maar Covid het ook sy ongenadige vingers in ons funksie geslaan, en dit moes oorstaan na 2021.

Maar hierdie jaar het sy eie uitdagings gehad, met Covid wat ons ‘n dwarsklap gegee het met baie onsekerheid en min stabiliteit.   Ons het nie geweet of ons funksie mág of kán voortgaan, of nie.   Die geweldige deurmekaar emosies wat voortdurend oor ‘n mens spoel, het die organiseerders ál hulle dae gegee.   Só ‘n funksie sou natuurlik ook ‘n risiko wees, en ons het geweet baie van ons gaste sou verkies om dit nie by te woon nie, omdat hulle doodeenvoudig net te bang was.   Ons was ook bang, bang vir verkeerde besluite, bang vir siek word, bang vir aansteek, bang vir dit, bang vir dat…… en so kan ‘n mens aangaan.   Maar Covid en sy trawante het nie rekening gehou met passievolle mense wat alles in die stryd sou werp om hierdie funksie te laat voortgaan met elke nodige voorsorgmaatreël in plek nie.  Op ons vergadering van 18 Augustus kon ons finaal besluit dat ons voortgaan, al is dit met slegs 50 mense.

Om ‘n groep dames so flink en vinnig te sien saamwerk, sou ons selfs vir Covid ‘n vuishou gee. Kaartjies is verkoop, die mooimaak van die saal is gefinaliseer, die kosbestellings is blitsvinnig geplaas, alle fyn detail het ‘n plekkie gekry om deurgetrap te word.  Daar was geen plek vir enige foute of flaters of vergeet-goeters nie, alles moes haarfyn deurdink word…..en dit wás so.

Die oggend van 18 September was so ná aan ‘n sjampanje-lentedag in die Kaap soos kan kom.   Dit was ‘n gevoel van ‘ligte, kamera’s, aksie!’   Die tafels was getooi  in ‘n stylvolle voetstuk in die middel, met ‘n pragtige kroon en ‘n string pêrels daaroor gedrapeer.   Ons tema van ‘Die vrou is die kroon van God se skepping’ is volmaak uitgebeeld.   Die koekboksies met die allerheerlikste fyngebak en die lawwe strik daarom, het die prentjie perfek afgerond.   Elke vrou het ook ‘n botteltjie water gekry met ons embleem op, ‘n koel  lafenis op ‘n warm dag.  Die gratis Bruis-tydskryf verskaf lekker geestelike leesstof vir ‘n week!

Om goeie sprekers vir ‘n funksie te kry, is nie altyd so maklik nie, maar dr Liana Roodt en Hanlie Retief was álles en nóg meer waarvoor ons kon vra.   Dr Liana is stylvol, fyntjies, petite, maar ‘n ystervrou wat vir niks stuit nie.   Haar werk as chirurg het meer as net ‘n werk geword, dit het ‘n lewenswyse en ‘n roeping geword.   Sy het nie gekla oor haar frustrasies  nie, sy het werk daarvan gemaak, en Project Flamingo op die been gebring waar chirurge en ander mediese personeel gratis diens verrig om borskankerpasiënte se lyding te versag.  Hulle opereer in teaters wat nie so besig oor naweke is nie, en wanneer die meeste chirurge nie normale operasies uitvoer nie.   Op hierdie wyse is honderde vroue al gehelp.   Hierdie fenominale vrou is ‘n vrou van aksie, van dade, van optree vir haar medemens, sy is so ‘n wonderlike voorbeeld van omgee.   Die onderhoud wat Hanlie met haar gedoen het, was inspirerend, betekenisvol en het beslis ‘n gevoel van trots wakker gemaak.   Die trots het gekom omdat sy so ‘n passievolle mens is, wat so baie doen in ‘n geweldige uitdagende tyd in die mediese wêreld. Hierdie projek verdien al die seën en genade waarmee sy dit aangepak het.   Haar praatjie het ons almal se harte geraak en HOOP gegee vir die toekoms.   Ons dames het hulle harte en beursies oopgemaak en ‘n bedrag van R10 000 is op die oggend bymekaar gemaak vir haar projek.

Hanlie Retief skryf boeke en artikels oor mense, maar ek het gesit en wonder wat ‘n ongelooflike boek dit sal wees, as iemand ‘n boek oor háár lewe sou skryf.   Sy het ‘n besondere gawe van ons Vader gekry om met woorde om te gaan, sy verstaan hoe woorde en sinne in mekaar pas om iets spesiaals te skryf.   Om na haar te luister, is om ‘n fliek voor jou te sien afspeel, sy gesels onderhoudend met geweldige agtergrondkennis, en verstaan haar gehoor. Daar is tydens haar onderhoud nie een oomblik waar jou aandag geleentheid kry om af te dwaal nie, jy sit op die punt van jou stoel en wag vir die volgende opwindende gebeurtenis wat sy vertel.   Haar stories in Rapport is ‘n MOET om te lees, dis altyd ‘n ‘lag met ‘n traan storie’.   Hulle vertel van menswees, van swaarkry, van woelinge diep ingewortel, van hartseer en van pyn.   Di’s asof die mense met wie sy onderhoude voer, net teenoor haar wil oopmaak en vir haar alles vertel, sy bou beslis ‘n vertrouensverhouding met die mense in haar stories op.  Maar daar is altyd ‘n grappie of ‘n snaaksigheid, sy het ‘n fyn humorsin wat sy perfek regkry om in haar stories te gebruik.

Ja, ‘ligte, kameras, aksie!’ het ons voorwaar ALLES binne 3 ure gekry!   Ons kon daar wegry met ‘n hart wat wou bars van trots, van inspirasie en van hoop.   Ons het ‘n lieflike land met ongewone mense, ons tel beslis vir Liana en Hanlie onder die ongewones, hulle maak orals ‘n verskil waar hulle gaan.   Maar diep in my hart weet ek dat Dameskring Bergsig óók ‘n klomp ongewone vroue het, di’s vroue wat sal saam staan, saam sit, saam dink, saam voel, saam lag, saam eet, saam doen….. én saam bid!