Hier is drie kenmekaarspeletjies.
Niemand is gewoonlik lus vir so ʼn speletjie nie, maar geniet dit gewoonlik baie en natuurlik leer mens jou taklede beter ken.
Speletjies uit die Voortrekkers se Speletjiesboek
Drie dinge
Skryf een tot drie persoonlike feite (vir grootgroepe minder) op aparte kaartjies neer. Byvoorbeeld: “My jongste kind se naam is Lente”, “Ek kan skubaduik”, “Ek is mal oor katte”.
Plaas die kaartjies in ’n houer. Elke persoon kry geleentheid om ’n kaartjie te trek en hardop te lees. Die deelnemers moet dan probeer raai wie dit is.
Twee waarhede en een leuen
Elke deelnemer moet twee waarhede en een leuen oor haarself neerskryf of vertel. Die res moet dan raai watter een die leuen is.
Letter waarmee jou naam begin
Beskryf jouself deur ’n beskrywende woord te gebruik wat met dieselfde letter as jou naam begin. Gee dan die beskrywende woord en jou naam byvoorbeeld Kreatiewe Katrien, Haastige Hester of Diensbare Dawn. Laat deelnemers in ’n kring sit en gee vir elkeen ’n beurt.