Handvlytskou

6 – 9 Augustus 2025

Die Dameskring is baie opgewonde om vanjaar tydens Augustus, wat Vrouemaand en Vrouedag is, ʼn handvlytskou by die Voortrekkermonument aan te bied.

In Suid-Afrika is daar soveel vroue wat die mooiste, fynste handwerkartikels maak. Vanjaar wil ons hierdie geleentheid vier deur gildes, organisasies en vroue uit te nooi om hulle handwerk te kom uitstal.

Daar is soveel voordele aan handwerk – om iets met jou hande te maak gee ʼn gevoel van genoegdoening en trots.

Boonop is handwerk terapeuties en kreatief. Ons sien uit dat Suid-Afrika se talentvolle vroue met hulle handwerk kom spog.

Dit sluit enige handwerkitems in bv. brei, kwilt, borduur, kloskant, hekel, pottebakkery, naaldwerk, skilder ens.

Vir enige navrae kontak:

Karin Stoffberg

Karien Snyman

Uitstallers

Die Fynkuns Borduurgilde

Ceramics @ Kleynstein

Ceramics @ Kleynstein is geleë by Lynnwoodweg 141, Pretoria, in die Karoo Square-kompleks. Deon Kleynhans is die eienaar van die pottebakkersateljee wat al meer as 25 jaar deel is van Karoo Square. Hy het die ateljee in Desember 2021 gekoop nadat hy besef het ná die Covid-pandemie dat daar belangriker dinge in die lewe is as die korporatiewe gejaag.

Aanvanklik het die ateljee klein begin met ‘n donker hoekie waar keramiekprodukte vervaardig is, vuurdienste gelewer is, kommissiewerk gedoen is en eie keramiekklei gemaak is. In Oktober 2024 het hy sy vorige besigheid verkoop en hom volkome op die ateljee begin toespits. Jong, energieke personeel is aangestel en kontrakte is verkry om bisqueware (ongeglaseerde keramiek) aan restaurante te verskaf.

Die ateljee het uitgebrei en beset nou omtrent 80% van die gebou. Nuwe toerusting en werkoppervlaktes is aangekoop en ’n winkel is gevestig waar pottebakkersbenodighede en keramiekprodukte verkoop word. Klante kan nou instap en vanaf die rakke koop.

In die laaste kwartaal van 2025 gaan hulle fokus op bemarking van pottebakkersklasse, spesiale werksessies en privaat funksies. Daar is reeds ’n konstante stroom studente en die ateljee word gereeld bespreek vir funksies soos kombuiskruiwaens, hen- en stagpartytjies, babastorte, verjaarsdae en kantoorfunksies.

Hul doelwit is om ’n bekostigbare, gemaklike en kreatiewe ruimte te skep waar mense hulself kan geniet sonder die daaglikse stres. Hulle sien daarna uit om meer van Pretoria se plaaslike inwoners te verwelkom.

Talita Heinrich

Ek is in Oos-London gebore en grootgeword. As 9-jarige dogtertjie het ek altyd by ʼn dame gebly wat vreeslike epileptiese aanvalle gekry het en nie alleen by die huis kon gelaat word as haar ouers die huis moes verlaat nie. Ek het op die stadium van my lewe geleer om te hekel, en doen dit vandag nog as my gunsteling stokperdjie.

Elke kombers, spoegdoek en dummy clip word met die grootste liefde gemaak. Al die produkte wat vandag hier beskikbaar is, is gemaak noudat ek afgetree is, en dis my heel beste manier van tydverdryf. Elke item word met 100% liefde gemaak, en ek is baie trots op my handewerk.

Lidia Hendriks

Mandjie0
Daar is geen produkte in jou mandjie nie.
Kyk nog rond
0