Termyntema

Omarm

2025 – 2027

Dit is met groot vreugde dat ons die komende twee jaar se
sentrale tema bekendstel:

OMARM

Elke seisoen bring sy eie uitdagings, maar ook verrassings en oorvloedige geleenthede. Tydens die Spanbou in November was dit die voorreg van die nuwe UB-span om ’n nuwe fokus vir die volgende twee jaar te bepaal.
Amandels van Hoop het op ’n hoogtepunt by die Beraad afgesluit en ons moes bepaal wat volg daarop. Met ons lede in gedagte en met die huidige klimaat waarbinne ons in ons land leef, staan ons op die drumpel van iets vars -’n uitnodiging om opnuut met oop harte te leef, te dien en te groei.

 

Daar is besondere diepte in die woord “omarm“. Dit beteken nie net om iets vas te hou nie; dit beteken ook om iets of iemand vrywillig te aanvaar, innig te waardeerof vreesloos met oorgawe te leef. Om te omarmis ’n daad van liefde, van geloof, van moed en ook van gehoor-saamheid. Wanneer ons omarm, kies ons om nie terug te deins vir dit wat God oor ons uitstort of oor ons pad bring nie. As ons onsself, ander en groei omarm,dryf dit vrees en onsekerheid en seerkry uit. Ons kies om met oop arms, harte, oë en voete vorentoe te stap.

Ons stel twaalf kragtige “Omarm“-subtemas aan julle voor. Hierdie temas kan vrylik oor die vol-gende twee jaar gebruik word om julle takke se beplanning vir byeenkomste en projekte te rig. Almal is ontwerp om ons diep te laat dink, opnuut te laat glo en meer doelgerig te laat leef. Ons gaan saam ontdek hoe om met wysheid en verantwoordelikheid te leef, hoe om mekaar te ontdek en te dra, en hoe om te groei in die unieke gawes wat Hy in elkeen van ons geplaas het.

Ons staan op die vooraand van ’n reis wat nie net inspirerend gaan wees nie, maar ook vormend. As Die Dameskring het ons reeds deur die jare gesien hoe God ons as lede op unieke maniere aanraak. Hierdie temas gaan juis daardie pad van persoonlike en gesamentlike groei versterk. Met elke fokusarea kry ons die geleentheid om dieper te delf, meer doelgerig te besin en prakties uit te leef wat dit beteken om DK se doelstellings waar te maak.

Dit gaan ’n lewensreiswees -’n reis wat uitloop op heling, verdieping, hernuwing, samehorigheid en gehoorsaamheid. Ons glo dat hierdie temas nie net die organisasie gaan versterk nie, maar ook elke individuele lid op ’n besondere manier gaan aanraak.

Kom ons omarm saam:
  • die Woord, sodat dit ons vorm;
  • die Gees, sodat Hy ons lei;
  • mekaar, sodat niemand alleen hoef te staan nie;
  • ons roeping, sodat ons kan skyn waar God ons geplaas het.

Mag hierdie jaarprogram ons inspireer om met volheid te leef, met liefde te dien en met vertroue te groei. Mag ons harte ontvanklik wees en ons gees gehoorsaam. En mag ons elke tema nie net hoor nie, maar in die volgende termynwaar maak.

Kom ons OMARM dit voluit.

Embleem

Die embleem van ’n organisasie is die beeld na buite. Saam met die huidige DK-embleem verkondig ons termyntema en die termynembleem, die identiteit, die doel en die waardes van ons organisasie. Dit is die taal van die organisasie en sy werksaamhede. Hierdeur vertoon ons DK se unieke karakter en dit waarop ons wil fokus in die termyn 2025 – 2027.

Die drie hande, in mekaar gedraai, is ‘n teken van ons verbintenis aan mekaar as lede van hierdie organisasie. Tekenend van samewerking en diensbaarheid. Dit is simbolies van omkring, omhels, gereed om mekaar by te staan en te waak oor mekaar se belange.

Die sirkel toon aanvaarding en insluiting, ondersteuning, waardering en koestering. Die sirkel is tekenend van insluiting, eenheid, dog oop en vloeiend, wat dui op inklusiwiteit en gemak.

Die hande van klein na groot simboliseer die Hand van God, die hand van vroue en die hand van ‘n kind. Dit verteenwoordig samewerking in geloof tussen vroue om gesinne en gemeen-skappe op te lig, te omhels, te verwelkom en saam te bind.

Die woord omarm begin in die binnesirkel wat dui op deernis teenoor jouself. Ons moet na onsself omsien, dan vloei dit oor en uit na ander om ons en naaste aan ons. Omarm is ‘n werkwoord.

Neem kennis dat tussen die DK-embleem en hierdie termyntema word al vyf die voorgestelde DK-kleure benut. Dit dui op kreatiwiteit en uniekheid. Op verskeidenheid en verskillende vermoëns. Op ‘n ope uitnodiging tot groter hoogtes in die skaduwee van deernis.

Mandjie0
Daar is geen produkte in jou mandjie nie.
Kyk nog rond
0