Die Dameskring se tweejaarlikse Beraad

10 – 12 Oktober 2025

Die Beraad is onbetwisbaar die hoogtepunt van elke DK-termyn! Indien jy in die verlede die geleentheid gehad het om ’n Beraad by te woon, sal jy saamstem dat hierdie naweek ’n MOET is vir elke DK-lid.

Die Dameskringberaad 2025

Day(s)

:

Hour(s)

:

Minute(s)

:

Second(s)

Die saamkuier met enersdenkende, dinamiese en besonderse vroue wat van regoor die land bymekaar kom, is die wegspringkans vir die sluit van lewenslange hartsvriendskappe.

Herontmoeting bied kosbare tyd om saam met DK-vriendinne vriendskappe te koester.

Vanjaar se Beraadprogram is sorgvuldig saamgestel. Dit beloof om ons termyntema “Amandels van Hoop” op ’n hoogtepunt af te sluit.

Uitsonderlike sprekers gaan beslis sorg dat elke Beraadganger verryk en geïnspireerd sal huis toe gaan om in hul omgewings ’n verskil te gaan maak.

Klik op hierdie skakel vir meer besonderhede oor die kundige sprekers en uiteenlopende, relevante onderwerpe.

Buiten die dagtoer op Donderdag 9 Oktober, wat geleentheid bied om die Rosestad se besienswaardighede te ontdek, bied ons ook vanjaar ’n ekstra toer aan.

Beraadgangers wat reeds Woensdag 8 Oktober in Bloemfontein arriveer kry die kans om die beroemde Planetarium op Naval Hill te besoek. Boonop gaan ons na die dagtoer die aand in die koshuis heerlik saamfliek, en natuurlik bied dit ekstra kuiertyd om vriendskapsbande te versterk.

Vrydagaand by die Beraad is tradisioneel dineetyd – hierdie keer gaan Christof Berg jou in ons hartstaal meevoer.

Gaan luister gerus hier na een van sy treffers, Wil jy sien hoe lyk die hemel.

Bespreek sommer nou om jou Beraadsitplek te bevestig. Skryf in teen 31 Julie 2025.

Sprekers

Dr. Nioma Venter

Algemene Sekretaris van die NG Kerk sedert Februarie 2024.

Meer oor Nioma:
My loopbaan het nie as predikant begin nie, maar wel as maatskaplike werker. In 1987 matrikuleer ek aan die Hoërskool Citrusdal, waarna ek na Hugenote Kollege in Wellington is en in 1991 daar kwalifiseer as maatskaplike werker. Van kollege af is ek direk na Ramot Sentrum vir Middelafhanklikheid in Parow waar ek as terapeut werk. In 1995 word ek aangestel as streekskoördineerder (Wes Kaap) vir die Christelike Afhanklikheidsdiens.

Tussen 1999-2000 doen ek navorsing oor die effek van oueralkoholisme op die ontwikkeling van adolessente kinders en verwerf daarmee ’n meestersgraad in maatskaplike werk. In 2002 volg ek my roeping en verwerf eers ’n BTh graad, hierna ‘n M.Div graad (cum laude), en in 2008 ’n Lisensiaat in Teologie (cum laude) aan die Universiteit van Stellenbosch. Ek dien as leraar in twee gemeentes, naamlik die NG Gemeente Prieska (2008-2012), en die NG Moedergemeente Worcester (2013-2017).

Tussen 2017-2023 werk ek as predikant in Sinodale Diens, Wes Kaap Sinode van die NG Kerk, waar ek die diensgroep vir diakonaat lei. Die diensgroep is ’n eenheidsbediening met die Verenigde Gereformeerde Kerk, wat sowat 520 NGgemeentes en VGK-gemeentes ondersteun in hul diens van barmhartigheid. My belangstelling in die interdissiplinêre vennootskap tussen kerk en kerklik-geaffilieerde maatskaplike diensorganisasies gee aanleiding tot doktorale studies in teologie.

Ek ontwikkel ’n model wat wil bydra om die gemeenskaplike impak van kerk en organisasie in sosiale kwessies in die Suid-Afrikaanse samelewing te verdiep en verbreed. Ek is getroud met Leon Venter, ’n afgetrede maatskaplike werker en praktiserende lewensafrigter. Ons het twee kinders, Nickus (26jaar) en Esté (22 jaar).

Dr. Burgert Senekal

Dr. Burgert Senekal is ‘n bekende Bloemfonteinse akademikus, navorser, taalkundige en taalpraktisyn met baie ysters in die vuur en sy oor op die grond, op hoogte van die nuutste ontwikkelinge ten opsigte van taal, navorsing en veral tegnologie.

Hy het in 1998 Matriek aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein geslaag en het tans ‘n stewige lys kwalifikasies wat hy agter sy naam kan skryf. Hy het sy BA aan die Universiteit van die Vrystaat behaal met sy hoofvakke Afrikaans-Nederlands en Engels. Daarna het hy sy MA in Afrikaanse literatuur magna cum laude aan die Universiteit van die Vrystaat behaal.

Hy voltooi die Cambridge Certificate in English Language Teaching for Adults (CELTA) deur Saxoncourt Teacher Training in Londen, waarna hy ook ‘n tyd lank in die Verenigde Koninkryk gewerk het, en ook sy MA in Engelse literatuur, ook toegeken magna cum laude deur die Universiteit van die Vrystaat. In 2013 verwerf hy sy PhD in Afrikaanse Literatuur aan die Universiteit van die Vrystaat.

Dr. Burgert was in sy lewe entrepeneur as vennoot by ‘n klein onderneming, vryskut vertaler en proefleser, kreatiewe ontwerper en bestuurder, verslaggewer, navorsingsassistent en lektor. Die afgelope paar jaar werk hy veral as datawetenskaplike en navorser van taalfasilitering en bemagtiging. Hy werk tans as navorsingsgenoot by die Eenheid vir Taalfasilitering en Bemagtiging en die Departement Rekenaarwetenskap en Informatika aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hy is ook direkteur van Datagedrewe Navorsings- en Inligtingsdienste (DNI). Een van sy grootste bydraes tot Afrikaans is sy navorsing en indrukwekkende lys artikels wat hy gepubliseer het. Hy is dan ook in 2025 met die Douw Greeff-prys vir die beste artikel in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskappe en Tegnologie bekroon.

Dr. Burgert Senekal is ‘n baanbreker as dit kom by die gebruik van en inligting oor kunsmatige intelligensie in Afrikaans en hoe die Afrikaanse landskap in die toekoms kan uitsien. Hy kombineer sy passie vir taal en tegnologie op ‘n kreatiewe wyse en gee ‘n kykie in die oneindige moontlikhede wat ontgin kan word.

Dr. Karin Stoffberg

Die onderwyslandskap in Suid-Afrika: Wat hou die toekoms in?

Agtergrond
Daar is baie kritiek teen onderwysstelsels wêreldwyd. Die kritiek is dat stelsels baie stadig verander en grootliks gebaseer is op die ou fabrieksmodel wat meer as 100 jaar gelede ontwikkel is. Teenkanting teen verandering het dikwels te make met befondsing, burokrasie, politiek of bloot net verset teen verandering.

Die prioriteit vir die Departement van Onderwys in Suid-Afrika is toegang tot kwaliteit onderrig vir alle jongmense, met die klem op die holistiese ontwikkeling van die kind sodat hulle na skool beter vir die lewe en werkgeleenthede voorbereid is. Die ontwikkeling van vaardighede en waardes is ingebou in die kurrikulum.

Die doel van onderwys in Suid-Afrika is om jongmense te lewer wat probleme kan identifiseer en oplos, krities en kreatief kan dink, effektief met ander kan saamwerk, inligting krities kan evalueer, effektief kan kommunikeer en verantwoordelikheid ten opsigte van die omgewing en ander kan toon.

Alhoewel die strewe na eksamensukses die maatstaf is vir die meeste onderwysinstellings, is waarde- en karakteropvoeding kenmerkend van goeie onderrig. Volgens Anthony Seldon, die outeur van die boek “The Fourth Education Revolution Reconsidered”, moet jongmense se karakteropvoeding saam met intellektuele vermoëns ontwikkel word.

Die eksamengeoriënteerde aard van die skoolkurrikulum en die druk om die dikwels oorlaaide kurrikulum klaar te maak, veroorsaak dat vaardigheidsontwikkeling van jongmense nie ʼn prioriteit in skole is nie. Sonder beter assessering, ʼn beter kurrikulum en beter onderrig sal 21ste-eeuse vaardighede nie die hoogste prioriteit in onderwys wees nie. Studente word voorberei om die matriekeksamen te slaag, en die klem val nie op vaardighede nie.

Aanbieding
Tydens die aanbieding by die Dameskringberaad sal daar gekyk word na die onderwyslandskap in Suid-Afrika asook internasionale tendense in onderrig en leer. Die vraag wat omsigtig beantwoord sal word is: Wat hou die toekoms vir onderwys in?

Meer oor Karin:
Getroud met Pieter Stoffberg vir 37 jaar – ʼn Voortrekkerliefde.
Vier kinders: Pierre, Maret, Arend en Eduard en een skoondogter Anshe. ’n Familie wat hoofsaaklik syfermense, introverte en linkerbreiners is.

Naskoolse Opleiding: Bsc(Ed), Verdere Diploma in Onderwys Rekenaarwetenskap, B Ed Ortopedagogiek, M Ed Rekenaargesteunde Onderrig en PhD in Rekenaargesteunde Onderrig.

Stokperdjies: Lief vir lees, handwerk, stap, kamp en die natuur.

G.P. van Rheede van Oudtshoorn

Onderwerp is: “Plus deur te minus”.
Hier is ʼn kort oorsig: Verhoudings wat waarde toevoeg is darem ʼn lekkerte. Daar is ʼn eenvoudige formule daaragter: Waarde = Beloning – Koste. Om dit egter te leef, en natuurlik te kommunikeer, is nie altyd so maklik nie. So, hoe gemaak om dit te maak werk? Ons moet seker maak dat ons kommunikasie op drie vlakke meer beloning inhou as koste. In hierdie aanbieding gee ons aandag aan kommunikasie op daardie vlakke – kommunikasie met onsself, met ander, en binne ʼn werksverwante konteks soos waar ons woeker in Die Dameskring.

Meer oor G.P. van Rheede van Oudtshoorn
GP is ʼn spreker en besigheidspesialis in strategiese belyning en korporatiewe kommunikasie. Hy het sedert 1998 gehore dwarsoor die wêreld toegespreek en opgelei in besigheidsbestuur, leierskapskommunikasie, bemarking en opleiding. G.P. het nog altyd rooi hare gehad en handel rooiwarm dienooreenkomstig. Sy gunstelingkos is pap en maalvleis. G.P. glo dat hy wen wanneer ander wen.

Prof. Fika J van Rensburg

Tema:“Ongeskrik! Daarom hóópvol die toekoms ín.”

Meer oor: Fika J van Rensburg is op 12 September 1951 op Frankfort (Vrystaat) gebore as oudste van Stoffel en Dulcie (néé De Witt). Hy het op die plaas Voorbeeld groot geword – tussen Standerton en Greylingstad, naby Cedarmont. Hy het skool gegaan aan die Laerskool Val en aan die Standertonse Hoërskool – nadat hy std 6 (gr 8) voltooi het aan die Eshowe High School in KZN, om op Pa se instruksie Engels en Zoeloe te leer. In 1969 was hy hoofseun van SHS.

Hy is getroud met Sunette (Nel) en hulle vier vanjaar hulle 52 ste huweliksherdenking. Hulle het drie stelle kinders (een stel in Linden, Johannesburg; een in Stockholm, Swede; een in München, Duitsland), en vyf kleinkinders. In 1972 was hy op die HK van Caput Manskoshuis aan die PUK, en Voorsitter van die Studenteraad (1973-1974). En vanaf 1987 was hy en Sunette vir tien jaar huisouers van Karlien Dameskoshuis.

Fika se spesialiteitsrigting is Verklaarkunde van die Nuwe Testament, waarin hy ‘n doktorsgraad het, en Grieks, waarin hy ‘n meestersgraad het. Hy was navorsingsgenoot aan die Yale Universiteit in die VSA, die Humboldt Universiteit in Berlyn, en die Radboud Universiteit in Nijmegen, Nederland. Hy het 66 wetenskaplike artikels gepubliseer, en talle artikels van meer populêre aard, waaronder verskeie rubrieke in dagblaaie en Netwerk24. Daar het 23 meestersgraadstudente en 21 doktorsgraadstudente hulle studie onder sy leiding voltooi.

Hy was redakteur en medewerker van sewe omvattende hulpmiddels by die verstaan van die Bybel, waaronder Die Bybel in Praktyk (1993), Die Bybellennium Eenvolumekommentaar (1999 en 2009), Die Multivertaling Bybel (2004), Die Nuwe Lewende Vertaling (2006 en 2011), en die Interliniêre Grieks-Afrikaanse Nuwe Testament (2012). Hy het aan verskeie Bybelvertaling-projekte deelgeneem. Die Andrew Murray-prys is vir twee van sy publikasies toegeken, en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het aan hom ʼn medalje toegeken vir Bybelvertaling en Teologie-handboeke. In opdrag van die uitgewer werk hy tans aan ʼn hersiene uitgawe van Die Bybel in Praktyk vir publikasie in 2026, en redigeer hy ook met die oog daarop die Nuwe Lewende Vertaling.

Vanaf 1975 was hy dosent in Grieks tot 1980; toe vir 2½ jaar predikant in die Gereformeerde Kerk Frankfort. Vanaf 1983 tot met sy emeritering in 2018 was hy professor in Grieks en Nuwe Testament aan die TSP en die PUK en latere NWU. Hy was Dekaan van die Fakulteit Teologie, Viserektor Navorsing & Beplanning, en Rektor van die Potch-kampus. Hy het aan die einde van 2018 uitgetree as Adjunkvisekanselier van die Potch-Kampus asook die Adjunkhoof van die NWU.
Tans is hy lid van die Raad van die NWU. Hy was voorsitter van die Aardklop-Direksie (2017-2020), Hoof Uitvoerende Beampte van die Cachet Park City Improvement District, ‘n maatskappy wat steeds bepaalde munisipale en sekuriteitsdienste in die groter Bult-omgewing lewer (2019-2020). Hy dien op die Direksie van die Noordelike Helpmekaar Studentehulpfonds, en is voorsitter van die Direksie van die Village of Golden Harvest One (Bromhof, Randburg).

Hy beskou dit as sy taak en roeping om die Bybel geldig te verklaar en vir ons tyd toe te pas, om hierdie Skrifbeginsels uit te leef en ander daartoe te motiveer en hulle toe te rus tot ongeskrikte roepingsvervulling. Sedert Mei 2021 het hy en sy vrou hulle in Bromhof in Randburg gevestig, waar hy o.a. tot Januarie 2024 as predikant hulpdiens gelewer het in die GK Randburg. Sy lewensleuse is: Slaaf van Christus, tot jou diens.

Dr. Elrika Senekal-van der Berg: Spanleier, Senior lektor en konsultant.

 

Meer oor Elrika:

  • Eggenoot van André
  • Ma van Nicolas & Sebastian
  • Deeltydse dosent by Universiteit van die Vrystaat
  • Spanleier by Bybelgenootskap van SA
  • Meestermentor vir Mother Design
  • Prediker
  • Motiveerder
  • Kreatiewe Probleemoplosser
  • Entrepreneur
  • Ons is geroep om lig en sout te wees.

 

Hoogtepunte:

  • 2009 PhD by Universiteit Vrystaat
  • 2019 Deeltydse Dosent
  • 2023 Bybelgenootskap van SA

 

Rolle in die samelewing:

  • Teoloog
  • Bybelse Berader
  • Spreker
  • Innoveerder
  • Verhoudingsbouer
  • Mentor
  • Sameroeper
  • Koordineerder
Mandjie0
Daar is geen produkte in jou mandjie nie.
Kyk nog rond
0