In Augustus 1967 het Marthella Pretorius en haar man gewonder of daar ‘n Afrikaanse vroueorganisasie bestaan, met as doelbewuste strewe die uitbou van die Afrikanersaak.
Nadat hulle al die bestaande vroueorganisasies bespreek het, het Marthella toenemend besin oor hoe so ’n organisasie tot stand kon kom en wie die inisiatief kon neem. Sy hoor ’n preek oor Jesaja 6:8 “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: ‘Wie sal ek stuur? en wie sal vir ons gaan?’ Toe antwoord ek:”Hier is ek, stuur my.”
En: Die Dameskring word op 18 Oktober 1967 gestig!
Marthella besef dat net een mens wat van ’n saak oortuig is, ’n groot taak kan aanpak… Sy was bereid om “gestuur” te word! Elke suksesverhaal in die geskiedenis van ’n organisasie is voorafgegaan deur die gehoorsaamheid van ’n individu. Vir Die Dameskring was Marthella Pretorius so ’n individu!
Sy het in moeilike omstandighede ’n groot en edel taak met merkwaardige onderskeiding verrig. Met haar dinamiese, maar nederige, voorbeeld het sy vure in mense se harte aangesteek. Haar vermoë om ’n droom in ’n werklikheid te omskep, was ‘n inspirerende boodskap vir haar volgelinge.
Die Dameskring het haar stigter verloor, maar die organisasie waarvoor sy só lief was en wat aan soveel vroue ’n nuwe visie, dinamika en betrokkenheid gebring het, leef voort! Ons huldig haar vir die inisiatief en daadkrag wat sy geopenbaar het om aan Suid-Afrikaanse vroue ’n eie staanplek in die Afrikaanse kultuurhuishouding te gee.
Die Dameskring is ‘n kultuurorganisasie vir alle vroue, 18 jaar en ouer, wat Christenskap uitleef en Afrikaans praat; wat die grondslag, doelstellings en werkswyse van die organisasie onderskryf.
Doelstellings

Christenskap
Die praktiese uitlewing van Christenskap.

Versterking van die gesin
Die behoud en versterking van die gesin.

Bevordering van die Afrikaanssprekende gemeenskap
Die bevordering van die belange van die Afrikaanssprekende gemeenskap, sy kultuur, waardestelsel, taal, geskiedenis en tradisies.

Bemagtiging van die vrou
Die toerusting en bemagtiging van die vrou op geestelike, ekonomiese, politieke, fisiese en opvoedkundige terreine.

Aktiewe bevordering van menseverhoudings
Die aktiewe bevordering van goeie menseverhoudings en die sinvolle naasbestaan van alle inwoners van die Republiek van Suid-Afrika.

Grondslag
Die Dameskring tree op volgens die riglyne van die Woord van God-drie-enig en in belang van alle mense in Suid-Afrika.

Visie
Geïnspireerde Afrikaanse Christenvroue maak as leier ʼn verskil in hul gemeenskap en in die breër Suid-Afrika.

Missie
Die Dameskring inspireer en bemagtig Christenvroue om as leiers en positiewe verskilmakers die Afrikaanse kultuur uit te leef, hul gemeenskappe dinamies te dien en te help bou aan ons land, Suid-Afrika.

Embleem
Die subtiele elemente waaruit die embleem bestaan dui op ’n verbintenis aan mekaar. Die kring van die drie vroue is egter nie geslote nie, want ons reik uit na buite om soveel vroue moontlik binne die DK-kring te verwelkom en aan hul ondersteuning te bied.
’n Kring van woorde verwoord die hoofdoelwitte van ons organisasie – bemagtig, inspireer en bou. Saam simboliseer hierdie twee sirkels die rimpeleffek van die verskil wat ons maak.
Die hart versinnebeeld die liefde van God wat ons tot ’n eenheid bind. Met hul arms reik die vroue uit, loof hul die Here, vra om hulp en omarm hul mekaar en ander. Die vroue straal ’n jubelende energie uit – ons DK-vroue dien mos met vreugde! Die drie dames in die embleem poog saam om mekaar te verryk, te ondersteun en die gemeenskap op te bou. Die nuwe embleem dra DK se bekende kleure wat net subtiel aangepas is om vars, energiek en byderwets te wees. Die nuwe DK-embleem sê dus PRESIES wie ons is!
Dameskring is opgewonde dat hierdie embleem vir die volgende paar jaar die boodskap van DK as sterk ondersteuningskring sal uitdra, dat dit Die Dameskring se visie van ’n gemeenskaplike gedrewenheid om ’n positiewe verskil in die samelewing te maak sal aandui, en dat dit ’n gevoel van energie en ’n positiewe uitkyk op die lewe sal kommunikeer.

Die erekode, Die Dameskring se vriendskapsooreenkoms
Ons erken mekaar as geesgenote.
In ons omgang met mekaar is ons bedagsaam, simpatiek en verdraagsaam.
Ons waardeer mekaar en is te alle tye gereed om mekaar by te staan.
Ons waak oor mekaar se belange en deel mekaar se vreugde en leed.
Ons erken mekaar se vermoëns.
Ons vertrou mekaar onder alle omstandighede.
Ons is bereid tot diensbaarheid en aktiewe deelname in ons gemeenskap.
Ons tree met selfdissipline op.
Ons glo in die almag van God Drie-enig en soek bo alles die verheerliking van Sy naam.
Ons waak en werk.


