Wanneer vroue bymekaarkom, verenig deur geloof, kultuur en die Afrikaanse taal, word hoop gevestig en gemeenskappe gedien.
In die winter van 1967 word ’n gedagte klein gebore. Dit groei tot ’n roeping in die hart van een vrou wat onontginde potensiaal in haar vrouwees raakhoor. Sy gun dit vir haarself en ’n handvol vrougenote om die reikwydte van hul verskilmaak te ontsluit.
Die hoe en hoekom van ’n idee kry geleidelik gestalte en ontwikkel tot ’n kultuurtuiste vir vroue wat mekaar erken as geesgenote – een in geloof en taal en burgerskap en Die Dameskring word op 18 Oktober 1967 gebore. Woord- en fotobeeld vertel van uitdagings, gebede, unieke verbintenisse en die blywende impak van vroue wat in gehoorsaamheid en tot eer van God dien en saamwerk aan hul roeping.
’n Toekomsverwagting word duidelik uitgespel deur vroue wat steeds vreesloos verklaar: “Stuur my!”
Geroep om te dien. Verenig in geloof. Gewortel in gemeenskap.
’n Geskiedenis wat inspireer en stuur!
Waarom sou ʼn mens die DK-geskiedenis wou neerskryf?
Prof Matilda Burden
Kultuurhistorikus
Die Dameskring het baanbrekerswerk gedoen om die Afrikaanssprekende vrou te bemagtig om, benewens die rol van eggenoot en ma, ook ‘n rol in die ekonomie van die land te speel en bydraes te lewer op sosiaal-maatskaplike gebied sowel as in die sfeer van kultuuraangeleenthede. Die organisasie is dus reeds byna sestig jaar besig met hierdie belangrike werk in die Suid-Afrikaanse samelewing en verdien erkenning, waarvan die uitgee van ‘n boek oor hul geskiedenis net een vorm van erkenning is.
Karen Hauman
Maart 2026
Wanneer iets gebeur is dit geskiedenis in wording. Ná die klaarmaak van die iets staan die geskiedenis vasgeskryf in hoofstukke en harte. Met die lees daarvan kan ons verwyt en bewonder, analiseer en beterweet.
Maar verander of doodvee of byvoeg kan ons nie. Ons kan wel leer uit ons gisters, meedoen aan die skryf van ’n nuwe iets wat teen môre en oormôre weer vasgeskryf sal staan – ’n nuwe geskiedenis.
Dit was ’n voorreg om te kon deel in die terugreis deur die Dameskringargiewe. Spoorsny was nodig. Soms ook grawe in die geskrifte, weer en weer lees, vergelyk en saamvoeg. Daar was onmisbare reisgenote: medewerkers, fynkykers, goeie geheues, bemoedigers. En daar was hartmaats wat saam gedink en gedroom het, saam met wie ek kon, en steeds kan, bou, bemagtig en inspireer.
Ek staan verwonderd en baie dankbaar voor nóg ’n mooie DK-deel wat ons Hemelvader vir my afgemeet het.