DAMESKRING (DUNDEE)
GEBIEDSKONFERENSIE 14 SEPTEMBER
Die Presidente van Dameskring, Coreen King, het ons by die Gebiedskonferensie besoek, saam met die Uitvoerende Bestuurslid vir hierdie streek, Sophia Herman.
Ons spreekster vir die oggend was ‘n Noord-Nataller en oud-DK lid, Delareze Weiss, wat in Vryheid woon. Sy het die dames toegespreek oor die tema van Dameskring (2019) “Vreesloos Vrou”. Dit was werklik ‘n plesier om na haar te luister.
Nadat die Voorsitter, Dorea Coetzee, almal verwelkom het, het Magda Vosloo van Dameskring (Newcastle) ‘n baie interessante ysbreker hanteer waar elke dame haarself ontleed het en haar persoonlikheid en karaktertrekke leer ken het.
Trudie Bester het die dames vergas met haar pragtige sang en die dames was oorstelp met verbasing oor die pragtige stem wat uit haar klein lyfie gekom het.
Coreen het ook twee “Verdienstelike dames” uit die gemeenskappe van Glencoe en Dundee gekies om hulle te bedank vir die wonderlike werk wat hulle in hulle onderskeie gemeenskappe doen.
In die gemeenskap van Dundee, is Suria Lombard, benoem as die “Verdienstelike Dame” en die Presidente het ook aan haar ‘n pragtige ruiker blomme oorhandig.
In die gemeenskap van Glencoe, is Bets van der Mescht, benoem as “Verdienstelike Dame”. Ongelukkig kon sy nie teenwoordig wees nie, en is die ruiker aan Bettie Wolfaardt oorhandig om aan Bets oor te gee.