Wie is God en hoe is God?
Baie keer dink ons dat ons gedurig moet aanpas of met nuwe planne moet kom sodat ons kan voor wees. Die wêreld voel soms of dit so vinnig verander dat ons self nie eers kan by bly nie.
Soms dink mense in die kerk ook so oor God. Dan voel dit of alles ’n gejaag word en vir ’n oomblik is dit amper asof mens kan dink dat God ook moet verander om aan te pas by die wêreld wat so vinnig verander. Ek wonder nogals of die wêreld werklik verander en of ons nie net miskien vasgevang word in besig wees nie?
Hebreërs 13:7-8 herinner ons egter aan ’n baie belangrike waarheid oor Jesus Christus:
Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het.
Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”
Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
Wanneer dit voel of alles rondom ons bly verander, MOET ons onthou, God verander nie! God hoef nie elke dag voor te wees met die tegnologie en om die slimste planne te hê sodat Hy die meeste mense na Hom toe sal trek nie. Sekere waarhede sal altyd blywend wees, en ook dieselfde bly. Dit is dat: God is God! Ons dien Hom omdat Hy God is!
God hoef nie te verander en by ons aan te pas nie! Ons hoef ook nie voor te bly met die nuutste ontwikkeling om by God aan te pas nie. ONS MOET wel rustig word, en besef WIE God is.
Die Hebreërs skrywer verwys na die voorgangers wat die woord aan julle verkondig het. Dit bedoel sekerlik al die geloofshelde soos, Abraham, Moses, Noag en ander. Maar ook die mense van hulle tyd wat die boodskap direk aan hulle oorgedra het, hulle ouers, rabbi’s en gelowiges in hul eie tyd.
So ook in ons tyd. Miskien het jou ouers, ouma en oupa, of iemand anders vir jou as kind so geloofs voorbeeld gestel. Vir jou vertel van Jesus Christus, van Wie God is en hoe God is, Onthou weer daardie boodskappe en waarhede, en volg die voorbeeld na! WANT GOD BLY GOD! HY IS gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
Ds. Craig Salzmann NG Gemeente Heuwelsig te Bloemfontein