Jy het al seker die vraag ontvang: “Wat kan jy bring – ʼn bordjie soet of sout?”. Vir sommige is “soet” altyd makliker, omdat resepte soos yskasblokkies maklik is om te maak en die kanse vir mislukking baie skraal is. Ander sal liewer “sout” verkies, omdat hulle ʼn verskeidenheid southappies met ʼn skilferkorsdegie kan optower.
Die idee van die resepteboek het uit die Bemarkings- en Projektekomitee (2023 – 2025) van Die Dameskring ontstaan. Dameskringbyeenkomste word gekenmerk deur kuier, vriendskap, omgee, liefde en dan natuurlik iets lekkers te ete. Bring-ʼn-bordjie is vir sulke byeenkomste waar hartsvriendinne saam kuier en iets te ete kan bydra. Maar meer nog: dit is ook vir enige ander geleentheid waar daar saamgekuier word – funksies, feesvieringe en vergaderings. En kyk: ons Suid-Afrikaners kan lekker kuier én eet!
Die meeste van hierdie resepte in die boek is maklik en vinnig om te maak, met bestanddele wat gewoonlik in die huis is. Daar is ook resepte vir spoggeleenthede om familie te beïndruk (), byvoorbeeld “Klamste sjokoladekoffiekoek ooit”. Die resepte kom vanaf DK-lede wat oor Suid-Afrika versprei is. Dit is beproefde familieresepte, dikwels uit ʼn ma se handgeskrewe resepteboek. Daar is mooi stories by die resepte wat jou hart raak – stories van familie, vriende, verlang en goeie tye.
Hierdie resepteboek is die ideale geskenk. Mag elkeen wat die resepteboek koop geïnspireer word om bordjies vol eetgoed te maak en te deel met vriende, familie en ander om so betekenisvolle herinneringe te skep.

