Katherine van Schalkwyk, DK-lid by Glenstantia tak, is op die onlangse DK Gebied 11 en Noord Wes Konferensie aangewys en vereer as “Vrou van Formaat”
Katherine is 83 jaar gelede in die Delareyville distrik gebore en groei op aan die oewers van Baberspan, in die Noord Wes Provinsie. Sy matrikuleer aan die Hoër Volkskool, Heidelberg, Gauteng. In Durban kwalifiseer sy en haar man, Frans, as aptekers.
Ná n jaar in Engeland as hospitaal aptekers, en n drie maande lange kampeertoer, keer hulle terug na Durban.
In 1967 koop hulle n apteek in Glencoe, Kwazulu Natal. Hulle kinders, Bertus, Marietha en Hannlie groei hier in die platteland op.
Tydens Katherine se studente dae, sluit sy by die Natalse Christelike Vrouevereniging aan. Vanaf 1978-2002 tree sy as presidente van die organisasie op. As gevolg hiervan raak sy ook betrokke by die Federale Vroueraad en Gesinsstigting (oorkoepelend van die vier afrikaanse organisasies) nl. ACVV, OVV, SACF en NCVV.
Onder haar leiding en medewerking van lede en personeel, word n aantal kleuterskole en behuising vir bejaardes, in verskeie dorpe opgerig. Daarmee saam word maatskaplike dienste ook oor n wye spektrum aangebied. Op haar inisiatief en aansporing skakel die NCVV by die SAVF in, gedurende 2003.
Op 18 April 1991, sluit sy en 15 vrouens by die DK tak aan, wat op Dundee gestig word. Sy het ook klavierlesse aan n groot aantal studente aangebied.
Op 20 April 1997 word Katherine se lewe totaal omgekeer. Sy en haar man word in hul huis op Glencoe, wreed met n spies aangeval. Haar man sterf, en sy het veelvuldige steekwonde.
Met die geloof in haar Skepper, die ondersteuning van haar kinders en die gemeenskap, herstel sy in so n mate dat sy kan aangaan met haar lewe.
Sy is nou in beheer van die apteek. Ook staar sy die onteiening sonder vergoeding van hul steenkoolregte en myn in die gesig. Verder moet sy ook n grondeis op n plasie wat hulle besit en n kankerdiagnose hanteer. Sy moes ook die trauma om alles agter te laat om na Pretoria toe te verhuis, verwerk.
Die aanvaller is eers na 11jaar gearresteer. Hy word egter as gevolg van sy pleidooi dat hy die daad in opdrag van sy voorvaders gepleeg het, deur mnr Jacob Zuma, presidensiële vrystelling gegee.
Alhoewel Katherine van baie voorregte waarvoor sy hard gewerk het, ontneem is, het sy besluit om nie bitter te wees nie, en geen haat te koester nie. Sy probeer om elke dag vergewingsgesind te lewe.
Volgens Stella van Rooyen, is al die lede van Glenstantia tak, baie trots om haar as lid van die tak te hê! Sy is wyd belese en altyd op hoogte van die politieke verwikkelinge in die land. Sy het al n praatjie oor DNA by die tak aangebied. Sy behoort aan n tuinbouklub, n omgeegroep en senior aksie van haar kerk.
DK sê: Baie dankie Katherine, vir die wonderlike voorbeeld wat jy vandag nog stel as “Vreesloos Vrou” binne en buite die Dameskring. Ons eer jou en beskou dit as n groot voorreg om jou in ons geledere te hê!
Saamgestel deur Heléne Richter en Stella van Rooyen
Deur Dik en Dun Kuier by die Dameskring se Streekskonferensie
Riana Mulder het saam met Estel Terblanche van Pretoria FM die Dameskring se Gauteng-Noord Gebiedskonferensie op Saterdag 19 Oktober bygewoon en toegespreek oor die boek Deur Dik en Dun – lekker kos en stories uit ou Pretoria. Nege Dameskringtakke was verteenwoordig en elke tak het ‘n gereg uit die boek voorberei. Daar is toekennings gemaak, heerlik gekuier en geëet en gaste is ook met volkspele en prystrekkings vermaak.